Gemeentebrief
DESEMBER 2025 (week 4)
“Toe Josef uit die slaap wakker word het hy gemaak soos die engel
van die Here hom beveel het en met haar getrou."
Matteus 1:24
Ons is besig met die vraag dwarsdeur hierdie Desembermaand: Wie (of wat) gaan jy volg?
Josef het second-thoughts gehad. Die meisie vir wie hy lief is en met wie hy gedink het hy gaan trou en ‘n lewe bou, is swanger. En hy is nie die pa nie.
Dit is hierdie ontnugterende maar eg menslike verhaal waarmee Matteus sy evangelie begin (1:18-25). Eintlik begin Matteus eers met Jesus se geslag-register (1:1-17) – en hy breek al die reëls van sy manlik-dominerende tyd deur 4 heidense vrouens in te sluit, waarvan ten minste een die reputasie van ‘n prostituut gehad het, een ‘n immigrant was, een se naam nie eers genoem word nie (want sy het die liefling koning verlei) en een ‘n Filistynse bordeel bedryf het. En nou is Josef se verloofde swanger en Josef is nie die pa nie. Matteus se evangelie gaan oor die koms van ‘n nuwe koninkryk en dit begin by skadu-stories waaroor goeie kerkmense nie eintlik oor praat nie en voorbeeldige mense oor skaam is of nie veronderstel is om te doen nie. Hoekom begin hy daar? Net dalk omdat Matteus verstaan het dat Jesus se koninkryk heeltemal anders gaan werk en vir almal ‘n plek het. Ons het almal 'n kans!
En dan skryf hy van Josef – die ander evangelies noem Josef net so in die verbygaan. Maar Matteus het geweet sy eerste lesers – die mans van sy tyd – moet dit hoor. Want mans wil mos voorloop en sê, en mans soek goeie voorbeelde. Hier is Josef, hy het sy hart oopgemaak vir die Here om met hom te praat en sy hart oopgehou vir sy swanger verloofde – maak nie saak wat die gebruike van sy tyd was nie, en wat mense sou sê en dink nie. Ek kies my vrou, want God het so gesê.
Die koninkryk wat Jesus kom bou het, maak plek vir mense wat nie dink hulle is goed genoeg of wat dit verdien nie. dit het plek vir mense soos ek en jy wat goed nie regkry nie. Jesus kom vir hulle wat nie inpas nie, vir hulle wat onseker is oor die pad vorentoe, oor wat is die regte ding om te doen, maar ook vir mense wat liefde ‘n kans wil gee, wat verhoudings wil laat werk – mans wat na God wil luister.
So maak hierdie Kersfees jou hart oop vir hierdie andersom Verlosser wat ook vir jou plek maak en volg Hom
Hoop julle het 'n goeie Kerstyd!
Groete in Christus!
Rian
