Mense verander. Die heel tyd. En een van die mees aangrypendste gebeure in die geskiedenis in die kerk is die verandering wat daar in die dissipels plaasgevind het na Jesus se dood, sterwe en opstanding. Doodeenvoudige vissermanne (en ‘n paar ander) verander die koers van die geskiedenis van die kerk. Hierdie verandering word toegeskryf aan die impak wat Jesus op hulle lewens gehad het, maar ook op hoe die Heilige Gees hierdie saad laat ontkiem en groei het, hoe die Heilige Gees hulle aan die brand gesteek het. My eie frustrasie met my eie lewe (en ek is oortuig daarvan dat daar by baie ander ook hierdie frustrasie is) is soms hoe ek nie verander nie, of hoe ek sukkel om te verander en diep binne my leef die begeerte om ook aan die brand gesteek te word deur die Heilige Gees.
Met hierdie reeks – On Fire - gaan ons vanaf 28 April vir 4 weke saamkyk na die belofte van die Heilige Gees (Johannes 13, 15), die vervulling met die Gees (Handelinge 2), dit wat die Gees vir ons verniet wil gee (1 Korintiërs 12, 13) en die resultaat van die Gees se werking in ons lewens (Galasiërs 5).
Dit bly my oortuiging dat ons die heeltyd in die teenwoordigheid van God leef, of anders gestel – God is by ons. Hy is altyd en orals by ons. Hoe hierdie werklikheid ons vorm of ons nou werk of speel of leer of slaap of lees of bid of nie, bepaal wie en hoe ons is, en of ons gaan verander.
Preke
Selleier Hulpmiddels