Uit Rian se pen 

In Markus 8 lees ons dat Jesus weer vir duisende honger mense kos gee (v 1-10)? en 'n blinde man laat sien (v 23-26) omdat Hy mense innig jammer kry (v 2), maar Hy weier om 'n wonderteken te doen vir die Fariseërs (v 11-21) om mense te probeer beïndruk of te probeer oortuig dat Hy wel die Seun van God is!

Jesus het nooit probeer om mense tevrede te hou of gelukkig te maak nie, of so op te tree dat mense meer van Hom hou nie! Hy doen wonders nie om die guns van mense te wen nie - daarom bestraf Hy Petrus in v 33 met die woorde : "Moenie in my pad staan nie Satan, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat mense wil hê."
 
Mense (ons) soek in die algemeen 'n geloof en 'n godsdiens wat nie te veel eise aan hulle (ons) stel nie en nie te veel vra en verwag nie, wat nie te moeilik is nie, geloof in Jesus moet maklik en gemaklik wees en wonders moet alle onsekerheid uit die weg ruim om ons te oortuig en te help om te glo. En daarom verwag ons van Jesus om ook aan ons voorwaardes en vereistes te voldoen! Ek soek geloof en godsdiens op my terme wat vir my pas.
 
Dit is glad nie die prentjie wat Jesus het nie, inteendeel, vir Jesus is die pad van geloof en godsdiens een van self verloën, kruisdra en Jesus volg, al beteken dit om te sterf - v 36.  Want, "Wat help dit 'n mens tog om die hele wêreld as wins te verkry en sy lewe te verloor?" en "Wat help dit ek dien 'n Here en ek skaam my vir sy woorde en opdragte?" (v 38) Hoe kan ek dink dat ek Hom kan volg, sonder om aan Hom gehoorsaam te wees en Hom die regte plek in my lewe te gee?
 
Jesus kry mense jammer, al kos dit Hom sy gewildheid. Jesus praat van 'n harder en meer ongemaklike en moeilike pad van geloof, as ons Hom gaan volg, wat my baie gaan kos, maar op hierdie pad gaan ek my lewe nuut terugkry! (v 34