Uit Rian se pen 

Geloof en godsdiens het baie minder te doen met uiterlike godsdienstige handelinge, rituele en tradisies as wat ons dink.  In Markus 7 sien ons dat dit vir Jesus oor baie meer gaan.  Vir Hom gaan dit oor wat in ons harte is. "Hierdie volk eer my met hulle monde, maar hulle harte is ver van My..." (Markus 7:6) 

Jesus weet dat alles begin in ons harte.  Elke sonde begin by 'n gedagte of 'n begeerte in ons hart v 20-23. Jesus weet dat ons ons harte moet oppas, dat ons moet kan eerlik wees oor wat in ons harte leef.  Dit help nie ons leef godsdienstig en voorbeeldig en ons harte is ver van die Here af nie. Dit help nie eers ons worship en sing en werk vir die Here, as Hy nie die belangrikste in ons hart is nie - dit was nog altyd vir Hom die punt van godsdiens.  "Maar, wat van binne af uit 'n mens kom, dit maak 'n mens onrein..." (7:20)
 
En om te wys dat Hy ernstig is hieroor, maak Hy 'n heidense vrou (wat in sy tyd se kerkmense se opinie natuurlik heidens en dus onrein was) se kind gesond v 24-30, en steek Hy sy vingers in 'n doofstom se ore en smeer hy spoeg aan sy tong om hom gesond te maak v 31-26. Jesus maak mense op verskillende maniere gesond - moenie 'n resep soek nie, dit is nie wat genesing gaan bring nie. 
 
As ons soos Jesus wil wees, moet ons baie versigtig wees om uiterlik te oordeel (heidene en tradisies en gebruike, rein en onrein), maar eerder sorg dat ons harte baie naby aan Hom is (v 6), sodat wat in ons harte is, kan uitgroei na 'n baie nou verhouding met Hom, na insluit van ander, genesing vir ander en diep betekenisvolle godsdiens.