Uit Rian se pen 

Markus 6:1-6 vertel die hartseer verhaal hoe Jesus se eie mense niks van Hom wou weet nie (v 3)! Hoe skokkend is dit - sy eie mense, hulle voor wie Hy groot geword het, wat Hom die beste moes ken - draai hulle rug op Hom. Selfs Jesus was "verbaas oor hulle ongeloof" (v 6).  Wat mense van ons dink en aan ons doen het 'n baie groot invloed op ons. Ons kan maar voorgee dat dit ons nie raak nie - maar dit doen en gewoonlik maak dit seer...

In Markus 6:17-29 lees ons hoe Johannes die Doper onthoof is, doodgemaak is, omdat Herodus sy dogter wou gelukkig hou!  Wat mense nie soms sal doen net om ander te please nie...
 
As die dissipels moeg terugkom nadat Jesus hulle uitgestuur het, neem Hy hulle na 'n stil plek toe om te rus, om alleen saam met hulle te wees, net om te ontdek dat die mense na Hom toe stroom.  En dan lees ons in v 34 die volgende: "Toe Jesus uit die skuit klim, het Hy 'n groot menigte mense daar gesien en Hy het hulle innig jammer gekry, want hulle was soos skape wat nie 'n wagter het nie..."?
(Griekse woord vir innig jammer kry is splangnizomai - lett: Voel uit sy derms vir hulle, sy diepste binneste) En Jesus leer hulle en gee vir hulle kos, brood en vis (v 35-44).
 
As sy dissipels moeg wegroei en teen die storm sukkel (v 45-51) kom Jesus op die water na hulle toe aangeloop, maar Hy stel hulle dadelik gerus met die woorde (v 50): "Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie."
 
Ek wens soms ek was meer soos Jesus wat Hom nie te veel gesteur het aan ander se opinies nie en eerder mense raak gesien het in hulle moeilikheid, herderloos, honger, bang en uit my derms begin omgee het. Ek wens soms ek kan meer in my storms vashou aan sy belofte: "Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie!"