Uit Rian se pen 

In Markus 4 kry ons 3 verhale oor saad. Markus 4:1-20 is die gelykenis van die saaier. Jesus word baie vergelyk met die Saaier wat sy Woord saai en die gelykenis vertel van die verskillende reaksie van mense op die Woord. Op die klipharde pad (v 4, 15) eet voëls dit eenvoudig op - het saad geen kans nie. In vlak harde grond (v  5-6, 16-17) kry die saad nie kans om wortel te skiet nie en toe dit warm word, swaar gaan, gaan die saad dood. Onkruid verdruk 'n ander deel van die saad en alhoewel die saad begin groei het, word dit versmoor (v 7, 18-19). Dit is slegs saad wat in die goeie grond val wat baie vrug oplewer (v 8, 20).  Hoe ek die Woord ontvang en toelaat om in my wortel te skiet en te groei, speel 'n groot rol in die vrug wat ek dra.
 
Dan vergelyk Jesus die koninkryk van God in nog 2 verhale met saad wat eenvoudig vanself ontkiem en groei (v 26-29) en met mosterdsaad wat baie klein is en tog baie groot groei (v 30-32). Hier wil dit amper lyk asof Jesus die fokus effens wegskuif van die grond na die  krag en vermoë en potensiaal van die saad.
 
Nooit mag ons die impak van God en Sy Woord in ons lewens onderskat nie.  Dit is hoe Jesus was - Hy daag ons uit om te leef met 'n verwagting dat al kry ons dit nie reg nie en is ons grond nie altyd diep en goed voorberei nie, gaan die saad van sy Woord ontkiem en groei en ons lewens verander. Markus 4 sluit dan af met Jesus wat saam met sy dissipels in 'n skuit in 'n storm beland - v 35-41.  Vreesbevange maak die dissipels Jesus wakker en Hy antwoord hulle in v 40: "Waarom is julle bang?  Het julle nie geloof nie?"
 
Om soos Jesus te wees, is om God te vertrou, geloof in Hom te hê. Dit beteken om oop te wees vir God se Woord, maar nie om my vertroue te plaas in wat ek regkry nie, maar eerder op wat God met sy Woord in my gaan doen - die saad sal groei!