Uit Rian se pen i

In Markus 3:1-6 lees ons een van baie onderonsies wat Jesus met die Fariseërs gehad het. Die Fariseërs was nie slegte mense nie, inteendeel, hulle was die toegewyde kerkleiers van hulle dag. In hierdie verhaal bly hulle liewers stil toe Jesus hulle voor 'n keuse stel:  Gaan julle vir iemand goed wees, of wil julle reg wees? (v 4) Mense se swaar en seer en moeilik het altyd Jesus diep geraak.
 
Hoe was Jesus? Markus verklaar in 3:5 "Hy het hulle rondom Hom kwaad aangekyk en was diep bedroef oor hulle verhardheid." Van die ander vertalings vertaal dit met - hardheid van hulle harte.  Jesus raak kwaad oor mense met harde harte.  Jesus raak kwaad oor mense wat nie wil verander nie. Hy wou 'n siek man gesond maak, Hy wou iets goed doen vir iemand. Nood van mense gaan by ons verby, omdat ons harte nie sag genoeg is nie!  Ons kan ook maklik verklaar dat hardheid van harte het ook te doen met die feit dat ons nie vir Jesus wil toelaat om iets nuut in ons lewens te doen nie - die Fariseërs was so vasgevang in hulle verstaan van wie en hoe God is, dat hulle Jesus gemis het!
 
Dit is my gebed dat jy jou hart sal oop maak vir Jesus om nuut te werk. My gebed is dat die Here vir jou 'n sagte hart sal gee vir mense in die moeilikheid. In Esegiel 36:26 is dit juis God se belofte: "Ek sal julle 'n nuwe hart en 'n nuwe gees gee. Ek sal die kliphart uit julle liggame uithaal en julle 'n hart van vleis gee."