Uit Rian se pen 


Dit is altyd interessant hoe 'n naweek 'n verskil maak in ons denke en gemoedere oor ons sporthelde!  Skielik het baie meer van ons hoop vir die Bokke!!
 
In Markus 2 is daar 2 treffende verhale wat vir ons 2 kante van Jesus se menswees uitwys.
In die eerste verhaal bring 'n verlamde man se vier vriende hom na Jesus toe (Mrk 2:1-12). Hulle ontsien geen moeite om hom voor Jesus se voete te bring nie, al beteken dit dat hulle die huis se dak moes oopbreek. Jesus se reaksie word in v 5 soos volg beskryf: "Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: Vriend jou sondes word vergewe!" Jesus sien al ons geloof en ons probeerslae en al ons opoffering en moeite raak.  Moet nooit dink dat die moeite wat jy met ander doen, nie 'n verskil maak nie - Jesus sien dit raak.
 
In die tweede verhaal (Mrk 2:13-17) roep Jesus vir Levi, 'n tollenaar en dan gaan eet Hy by Levi saam met ander tollenaars en sondaars. As Jesus daaroor aangevat word, antwoord Hy in v 17: "Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars." Jesus het baie tyd gehad vir sondaars, maak nie saak wat die goeie kerkmense en die godsdienstige reëls van sy dag daaroor gesê het nie.  Mense was (en is) vir Jesus baie belangriker.  Mense moet altyd vir ons belangriker wees.  Ek wil soms die argument wen, reg wees (vra my vrou!) terwyl dit vir Jesus belangriker was om by mense uit te kom, tyd by hulle deur te bring en hulle bloot te stel aan die mens wat Hy iwa.
 
En as ons sy verteenwoordigers is (soos Hy wil wees), dan is dit ons uitdaging - doen moeite met mense, met jou vriende wat swaar kry, met ander nie-kerk mense, nie-gelowiges op jou pad en in jou lewe, want iewers moet hulle in kontak kom met mense wie se lewens deur Jesus verander is!