Uit Rian se pen
Die uitdaging vir gelowiges is altyd "om soos Jesus te wees", of sy voetspore te volg of sy voorbeeld na te leef. Ons verklaar mos maklik dat dit die een saak is wat Christene anders maak. Die preekreeks waarmee ons op die oomblik besig is - Fruitfulness on the Frontline - daag ons tog ook uit om orals so te leef dat ons "andersheid" aantreklik is! Ek is besig om die evangelie van Markus te lees en wil oor die volgende paar weke met julle 'n paar goed uit Markus deel na aanleiding van die vraag: Hoe was Jesus? 

In Markus 1:11 as Jesus gedoop word lees ons dat die hemel oopskeur en God die Vader oor sy Seun die volgende verklaar: "Jy is my geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My." 

Hoe was Jesus? Jesus het geweet hoe sy Vader oor Hom voel. Hy het presies geweet dat sy Vader vir Hom lief is.  Hoe moet ons wees?  Ons moet mense/kinders wees van die Hemelse Vader wat weet dat ons Vader in die hemel vir ons lief is.  Jesus se diepste identiteit was hierin opgesluit en voordat Hy met sy bediening begin het, of versoek is, of wonderwerke gedoen het, of gepreek het, of enige teenstand ervaar het, of selfs aan die kruis sterf, weergalm hierdie woorde oor sy totale lewe.  Dit definieer wie Hy is:  Hy is iemand vir wie God lief is.  Ons mag dit ook glo - voordat ons enige iets hierdie week doen of ooit kan wees, moet ons weet dat God vir ons lief is.  En nog meer, dat Hy opgewonde, verheug is oor ons lewens! (Die NIV vertaal dit met well-pleased - klaar tevrede en gelukkig met ons!!)

Hierdie fokus plaas ons mislukkings (Saterdag se 34-32!), teleurstellings, hartseer, uitdagings, drome, planne, moeilike keuses en alles op ons pad hierdie week in 'n ander lig. Ons is klaar geliefd - maak nie saak wat loop verkeerd of wat werk reg uit nie, maak nie saak wat ons regkry of nie gaan regkry nie!! 
 
Mag jy hierdie week ontdek dat God vir jou lief is, en nog meer dat Hy Hom oor jou verheug!